Koskenades 21 Kaas

Die oorsprong van kaas is moeilik om te bepaal maar daar word gereken dat dit al van die Romeinse Ryk ‘n gespesialiseerde bedryf was. Daar is ook bewerings dat kaas per ongeluk ontdek is. Arabiese handelaars het melk in ‘n sak gestoor wat van die maag van ‘n dier gemaak is, en met die rond skommel van die sak op hulle reistogte het die melk geskei in dikmelk en melkwater.

Later is die dikmelk gesout en gepress om dit te preseveer en so het kaas dan ontstaan. Kaas in daardie era was suur en souterig en baie soos die feta van vandag.

Toe mense kaas in Europa begin maak het, was minder sout nodig vir die presevering daarvan a.g.v die koeler temperature as in Asië.So kon mikro organismes op die kaas groei met die verouderings proses wat verantwoordelik was vir baie kenmerkende geure wat ons vandag goed ken in kaas.

Cheddar kaas wat van koei melk gemaak word het sy oorsprong in 1500 VC maar dis Enegeland wat dit bemeester het. Gouda kaas of soetmelk kaas het sy oorsprong in Nederland in 1697. Parmesaan wat van koeimelk gemaak word en Pecorino wat van bokmelk gemaak word, het in 1597 in Italië ontstaan. Brie, Camembert en Rouqefort kase is ongeveer 1791 in Frankryk gemaak en Emmentaler is rondom die 16de eeu in Switserland gemaak. Vandag bestaan daar meer as 400 verskillende soorte kase.

Kaas word as ‘n uitmunttende voedselsoort geklassifiseer. Kaas is ‘n hoëgraadse protein en vetbron, en kaas is ook besonder ryk aan kalsium, fosfate en vitamine A en B2.

Kaas word in uiteenlopende omstandighede gemaak en bewaar.Die verskillende kaas name is ook almal afkomstig van die verskillende lande en dorpe waar dit oorspronklik gemaak is.

Die kaas bedryf is baie groot en net soos wyn wat ook ‘n groot rol speel in die kosbedryf, so het kaas ook fynproewers. Daar is dan ook mense wat net die Cheddar kaas ken wat hulle in die weekslikse macaroni en kaas gereg gebruik.

‘n Kaas soos Roquefort – of blou kaas soos baie van ons dit noem – kan so effektief gebruik word om ‘n dis van gewoon na iets absoluut besonders te verander. Ons het nou een aand met een van die Italiaanse Pasta kook lesse ‘n voorgereg gemaak van die dun spaghetti of vermecilli met ‘n bloukaas room sous. Die sous is letterlik net ‘n houer vars room en ‘n skyf blou kaas wat jy saam smelt. Dit is voorwaar ‘n vinger lek treffer!

  • Gekrummelde, diepgebraaide Brie kaas met bosbessie konfyt is onweerstaanbaar lekker.
  • Ek maak ‘n voorgereg waar ek ‘n heel Camembert sirkel kaas in twee sny dat jy twee sirkels kaas het. Ek sit dan fyn gesnyde groen vye en geroosterde neute tussen die twee lae. Alles word dan op ‘n filodeeg vierkant wat bestaan uit verskillende lae filo wat met botter gesmeer is geplaas.Bo op die boonste sirkel kom daar dan weer gesnyde vye en geroosterde neute. Die filo deeg word dan toegevou en sommer opgefrommel. Smeer weer gesmelte botter oor , strooi weer neute en vye oor en bedruip met die vye se stroop.Bak die hele spul in die oond totdat die filo ligbruin gekleur is. Bedien saam met melba toast of bruschetta broodjies. Heerlik!
  • Ons maak macaroni en kaas wat bietjie anders is as die gewoon. Jy maak ‘n bechamel sous en smelt dan heerlike gerasperde cheddar kaas in. As jy die kaas geur wil beklemtoon kan jy ‘n knippie mosterd poeier bymeng. Meng die kaas sous en gaar macaroni saam in ‘n oondbak. Braai gekapte spek, broodkrummels en fyn gesnyde sprietuie saam in botter tot die spek lekker bros is. Strooi die mengsel oor die macaroni en kaas en bak in die oond.
  • Ek het ‘n heerlike en so maklike pastasous leer maak by ons vriendin – Hannelie – in Ladybrand. Jy smelt 1 koppie gerasperde Pecorino kaas, 1 koppie fyn gekapte vars pietersielie en 1 koppie vars room in ‘n kastrol en bedien dit met Tagliatelle of Penne pasta en ‘n heerlike groenslaai.

Halloumi kaas wat sy oorsprong in Cyprus het word van bokmelk gemaak en omdat die smeltpunt van Halloumi kaas so hoog is kan dit heerlik gebraai word en saam met ‘n groenslaai geeet word of saam met waatelemoen geniet word soos in Griekeland.

Kaas as nagereg wat ‘n Europese voorkeur is bly altyd lekker saam met vars vrugte of gepreserveerde vrugte soos groen vye.

Onthou om kaas teen kamer temperatuur  te bedien veral as jy dit as ‘n kaasbord vir nagereg voor sit. Teen die tyd wat jy die nagereg eet het jou smaak sensors al oortyd gewerk van al die ander kos. Wanneer die geurige vetmolekules van kaas te koud is verloor jy baie van die smaak.

Eksperimenteer met al die heerlike kase tot ons beskikking! Gaan besoek ook gerus Pretoria Boeremark by die Pioniers Museum vir heerlike tuisgemaakte kase!

Koskenades 20 Potjiekos

Ons het die naweek gou by goeie vriende van ons, Anton en Elna,  gaan inloer om na hulle nuwe kombuis te kyk, en kry hulle toe buite in die lapa besig om ‘n heerlike potjie te maak. Ek het bietjie by Anton kers opgesteek oor die moets en moenies van potjie kosmaak.

Hy het al aan kompetisies deelgeneem en te oordeel aan die heerlike smaak van sy hoenderpotjie moes hy defnitief al iewers ‘n potjie kompetisie of twee gewen het. En ek het geleer dat een van die lekker dinge van potjie is dat ‘n mens so lekker saam kuier om die vuurtjie met die pot wat eenkant stadig staan en prut – en as jy toevallig daar ‘n draai maak met die opskepslag word jy sommer genooi om saam te eet.

Maar kom ek vertel net eers waar kom die potjiekos manier van kos maak vandaan. In die laat 17de eeu het die Nederlanders die tegniek om gietyster te maak baie goed bemeester deur droë sand vorms te gebruik om die gietyster net reg te giet om die oppervlaktes mooi glad te kry. Vanaf  1710 was die term “dutch oven” of Hollandse oondjie gebruik en so het dit deur die hele wêreld versprei deur verkenners. Dit is juis die verkenners en setlaars wat die sterk, bestendigheid en veelsydigheid van die pot waardeer het op hulle togte deur die wêreld. Hulle kon in die potjie water kook, bak, braai en bredies maak. En dit is maar net die gebruike in die kosafdeling, die potjie was so belangrik vir ‘n gesin dat dit selfs in testamente bemaak is aan nageslagte. Daar is selfs in 1788 in die Amerikaanse president, George Washington se moeder se testament verwys na die gietyster kookware of te wel “dutch oven” wat sy aan haar kleinseun en kleindogter bemaak.

Gietyster potjies was al voor die vroeë setlaars deur die swart bevolking wat deur Afrika na die Suidpunt van Afrika toe gemigreer het gebruik. Hulle het die “dutch ovens” by Arabiese handelaars en later by Portugese koloniste leer gebruik. Voortrekkers het weer in hul trek vanaf die Kaap af die pot wat onder die wa gehang het gehad, en waar ook al hulle gekamp het was daar vuur gemaak en is wild of bees of skaapvleis in die pot gebraai en groente bygevoeg as hulle groente in die hande kon kry.

So het die potjie ontwikkel, en vandag is potjiekos ‘n ware Suid-Afrikaanse gereg, maar wanneer vriende dit saam doen word dit ‘n heerlike saam kuier.

Die mees gewilde pot is die nr. 3 pot en jy kan gemaklik vir 4 – 6 mense goeie porsies daaruit bedien. Die belangrikste van potjiekos maak is dat, net jy die potjie maak, net jy voeg goed by, net jy lig die deksel as jy dink dit is reg en niemand – nie eers jy nie -roer aan die pot.

Jy begin deur die potjie warm te maak met ‘n bietjie vet of olyfolie in. Braai dan jou vleis tot lekker bruin. Die klam-hitte gaarmaak metode van potjiekos is ideaal vir minder sagte vleis snitte. Die lang, stadige gaarmaak saam met die vloeistof verander die wit bindweefsel in gelatien. Die vleis is dan heerlik en sappig.

Jy kan nek, skenkel, dikrib, borsstuk van bees en lam gebruik. Jy kan borsstuk, skenkel-en-pootjies en lies-ribbetjie van vark gebruik. Hoender, vis en seekos maak ook heerlike potjies, en jy kan ‘n groente potjie ook maak. En vir die wat afval eet kan jy selfs ‘n afval potjie maak.

Jy kan tydens die braai van die vleis bietjie gekapte uie saam braai  vir smaak, maar geskilde uie sommer so in die helfte gesny bo-op die groente in die potjie veroorsaak dat al die lekker geur deur alles trek na onder toe. Uie wat gaar word so bo-op die groente is absoluut heerlik – ek het dit Sondag self geproe – die soet smaak van die uie gemeng met al die ander geure van die vleis en groente is eenvoudig fenominaal.

Nadat die vleis bruin gebraai is kan jy die kruie en speserye van jou keuse byvoeg en ‘n bietjie atreksel of rooi wyn met rooi vleis en wit wyn saam met hoender. Laat die mengsel bietjie saam braai dan voeg jy laag gewys jou groente by.

Eerstens pak jy aartappels en wortels wat die langste vat om gaar te word en natuurlik sal die lekker vleis geur in die aartappels en wortels in trek. Daarna pak jy groente soos soet patats, pampoen en groen groente wat gouer gaar word by.

Laaste kan jy sampioene en tamatie byvoeg en dan die halwe of gekapte uie bo-op. Nou kan jy vloeistof opvul – nog wyn of aftreksel - tot so 2cm onder die boonste laag.

Party mense sit nou koolblare bo-op om die hele pot te seël. as die kool blare wit verkleur het dan is die potjie net reg. Maak toe die pot en kuier lekker saam. As jou pot nie praat nie – dit is nou liggies prut nie – moet jy die vloeistof dophou en miskien aanvul om te keer dat jou potjie nie droog is of brand nie.

So 15 minute voor jy as potjiemaker voel die kos is reg kan jy iets soos room of ‘n sopmengsel byvoeg net om ‘n lekker sous te verseker.

Wanneer jy opskep vat ‘n groot lepel en skep diep tot onder om van al die lae te kry of laat almal eers groente skep en dan vleis.

Geniet dan die heerlike geurige potjiekos saam met stampmielies , rys, coucous of krummelpap.Of net lekker vars tuisgebakte warm brood!

HOENDER POTJIE

1 kg hoender dye

45 ml olie

10 ml sout

4 lourierblare

4 swart peperkorrels

knippie tiemie

knippie gemengde speserye

45 ml blatjang

500 ml wortels, geskil en gesny

6 groot aartappels, geskil en gesny

500 g heel knopie sampioene

125 ml kook water

1 hoender aftreksel blokkie

Verhit olie in potjie, sprinkel sout op die hoender dytjies en braai ‘n paar stukkies op ‘n slag tot goudbruin.

Voeg die kruie, speserye en blatjang by.

Pak die wortels, aartappels en sampioene in lae bo-op die hoender.

Los die hoender aftreksel blokkie op in kookwater en voeg by potjie.

Sit die potjie op en prut vir 1 uur en 20 minute.

Voeg water by as die vloeistof te min raak, maar nie te veel nie.

HEEL LAMSKENKELS

4 heel lamskenkels (so 600g)

4 lourierblare

klont botter

2 eetlepels suurlemoensap

3 fyn gedrukte knoffelhuisies

2 eetlepels gekapte vars roosmaryn

2 eetlepels gekapte vars oregano

sout en swart peper

wit wyn of vleis aftreksel

Verhit die potjie, smelt die klont botter in die potjie en voeg al die bestandele behalwe die skenkels, wyn of aftreksel en sout en swart peper by.

Geur die skenkels met die sout en peper, braai dan die skenkels bruin in die bottermengsel, en voeg van die wyn of aftreksel by.

Sit die deksel op en laat 1 ½ tot 2 uur prut of tot skenkels sag is, maar die vleis moet nie van die bene afkom nie. Voeg nog wyn of aftreksel by, indien nodig.

Dien op met heerlike tuisgebakte vars brood om die souserigheid mee op te vee.

Koskenades 19 Bees Fillet

 Die fillet vleis wat ons meesal te koop kry by slaghuise of supermarkte kom van bulle of verse. Hierdie spier lê reg langs die rugstring en strek van onder die ribbes tot by die bees se boud. Hierdie spier word baie min gebruik deur die dier vir normale beweging en daarom is dit by uitstek die sagste vleis van ‘n bees. Ongelukkig is dit een van die kleinste spiere en daarom duurder as ander snitte vleis.

Fillet word gebruik vir disse waar ons sagte vleis nodig het, of as ons lus het om onsself te bederf met ‘n heerlike sagte fillet steak. Die Franse het ‘n gereg wat Fillet Mignon genoem word en wat beteken – lekker stukkie vleis - dit is ook net ‘n lekker stukkie gebraaide fillet en kan saam met ‘n rooi wyn sous bedien word.

Beef Wellington is ook ‘n heerlike bees fillet gereg wat afkomstig is van Brittanje. Ek hou self ook baie daarvan en dit was een van ons restaurant se gunsteling disse op die spyskaart. Om Beef Wellington te maak is redelik baie werk maar defnitief die moeite werd vir ‘n spesiale geleentheid of vir lekker eet.

Beef Wellington word soos volg gemaak :

  • jy moet eers ‘n lekker geurige broskors maak en in die yskas laat staan vir ‘n uur of so. Ek het al skilferkors ook gebruik maar tuisgemaakte broskors is die beste.
  • braai dan fyngekapte uie, sprietuie en seldery saam in botter tot gaar en laat eenkant staan om af te koel.
  • neem dan 1 groot bruin sampioen waarvan die steel afgesny is
  • rol jou broskors deeg uit, nie te dun nie, en sny ‘n deeg vierkant van so 12 cm x 12 cm.
  • plaas dan ‘n eetlepel van die uie mengsel in die middel van jou deeg vierkant
  • sny ‘n dikkerige 120 – 150 g fillet stukkie en plaas op die uiemengsel
  • plaas die sampioen op die fillet stukkie
  • vou nou mooi toe van al die kante af en sorg dat die deegpakkie goed geseël is
  • draai nou om, versier dit met ‘n blommetjie wat jy van die oorskiet deeg gemaak het (as jy wil)
  • verf nou die deegpakkie met gesmelte botter of geklitsde eier
  • plaas op ‘n oondpan wat jy met botter gesmeer het of met Spray en Cook gespuit het
  • bak dit vir +- 15 – 20 min teen 180° C tot die deeg mooi bruin is, jou fillet sal dan perfek medium gaar, geurig, sousig en sag wees
  • bedien dit saam met ‘n sous van jou keuse soos ‘n sampioen sous, of ‘n rooiwyn sous.

Beef Stroganof kan gemaak word van afvalstukkies of kleiner stukkies fillet wat dan ‘n heerlike sagte vleis waarborg.

Meeste mense verkies dat ‘n fillet steak net gebraai word in ‘n pan met olyfolie en botter. As jy dit so verkies, probeer dan om jou fillet porsie te rol in ‘n komyn en growwe swart peper mengsel wat dan ‘n baie interessante geur aan die fillet gaan gee.

Probeer om altyd eerder vars kruie saam met fillet te gebruik, ‘n mens betaal so baie vir fillet dit is die moeite werd om moeite te doen met die geur daarvan en vars kruie sal vir jou die beste geur verskaf.

Die beste manier om ‘n heel fillet net so voor te berei is om eers die heel fillet in ‘n baie warm pan met olyfolie aan albei kante te seël om te verseker dat al die natuurlike sappe binne bly. Plaas dan die heel fillet op ‘n plat oondplaat wat se kante nie hoog is nie, want die hitte gaan nie mooi versprei as die kante te hoog is nie. Plaas dan die oondplaat met die heel fillet binne in ‘n vooraf verhitte oond wat op 200°C verhit is, vir so 15 – 20 minute  minute, afhangende van hoe gaar jy van jou vleis hou. Haal dan uit die oond, maak met foelie toe en laat staan vir so 10 minute wat help vir optimale smaak.

Fillet verskaf verseker vir ons die uiterste bevrediging van ons smaak sensasie, wanneer ons deur ‘n fillet byt en dit smelt soos botter op ons tonge. Die smaak is fenominaal, ja dit is weelderig! ja dit is duur!, maar sjoe dit is die moeite en die geld werd” Gordon Ramsay

Koskenades 17 – Groen boontjies

Ek het onlangs die mooiste, groenste boontjies nog ooit gekoop en besluit om daaroor te praat.

Groenboontjies is afkomstig van dieselfde familie as die meeste ander bone wat ons vandag op die winkelrakke kry in droë of geblikte vorm. Groen boontjies word letterlik net ge-oes wanneer dit nog groen of in ander terme nog nie ryp is nie.

Daar bestaan omtrent 130 varieteite wêreldwyd, maar die een wat ons die beste ken, vir sy lekker soeterige geur en tekstuur, is die groenboontjie wat baie van ons al self probeer groei het in ons tuine.

Boontjie peule kan ook verskil in kleur, want daar is tot pers, lig bruin, rooi en streperige peule te vinde. In grootte is daar ook verskillende boontjies, daar is die baie dun franse tipe boontjie, genoem die harricot en die groot breë boontjie wat die romano genoem word.

Boontjies is oorspronklik afkomstig van Peru in Suid Amerika waarvandaan dit deur die hele Amerika versprei is, deur veral die Indiane wat oral rond geswerf het. Later is dit deur die Spaanse wêreldverkenners baie verder versprei tot in Europa nadat hulle Peru beset het in die 1600′s. Amerika is vandag nog een van die grootste produsente van groen boontjies. Bykans 60% van die wêreld se jaarlikse gebruik van boontjies word deur hulle geproduseer en verwerk, aangesien boontjies ook geblik en gevries kan word.

Boontjies glo dit of nie, bevat amper net soveel kerotien soos wortels en tamaties en is baie goed vir ons. Die enigste rede hoekom ons dit nie kan sien soos in die geval van wortels nie is as gevolg van die hoë chorofil inhoud  in boontjies wat veroorsaak dat dit so mooi groen is. Groenboontjies bevat ‘n hoë konsentrasie antioksidante en het ook goeie voedingswaarde, minerale en vitamines.

Omdat die antioksidant inhoud so hoog is het boontjies goeie kardiovaskulere voordele. Die omega 3 vet inhoud in die boontjies het goeie voordele wat jou hart beskerm. Groenboontjies het ook anit-inflamatoriese voordele en kan help om tipe 2 diabetes te voorkom.

Wanneer jy boontjies koop, maak seker dat dit ‘n gladde tekstuur het en ‘n helder groen kleur het. Boontjies moet verkieslik nie bruin kolle of kneusplekke aan hê nie. As ‘n boontjie ferm is en maklik breek as jy die boontjie buig is die boontjie gewoonlik op sy varste.

Boontjies moet verkieslik heel en ongewas in ‘n plastieksak onder in die groentelaai van jou yskas gebêre word. Op die manier behoort jou boontjies tot 7 dae vars te bly.

Boontjies kan gevries word vir later gebruik. Dit moet verkieslik net heel geblansjeer word voordat jy dit vries. Boontjies se voedingswaarde bly baie dieselfde as jy dit nie langer as 3 maande in jou vrieskas los nie.

Die beste manier om boontjies gaar te maak is om dit te stoom vir omtrent 5 minute. Op die manier behou jy die meeste van die voedingstowwe, vitamines en minerale en ook die kleur van die boontjies. Ek het voorheen genoem dat jy nie koeksoda by boontjies moet voeg om die kleur te behou nie, koeksoda vernietig meeste van jou voedingstowwe.

Daar is heelwat maniere om boontjies voor te sit :

  • in bredies
  • oond gerooster saam met ‘n verskeidenheid ander groente
  • gemeng saam met mielies, wortels en ertjies
  • gebraai saam met sampioene
  • gebraai in botter
  • gebraai in botter saam met knoffel, makadamianeute en dan strooi jy gerasperde parmesaan kaas oor
  • in die Franse Salad Nicoise wat bestaan uit gestoomde boontjies, tuna, tamatie, olywe, ansjovis en party mense voeg aartappel ook by.

Vir my is die lekkerste manier boontjies wat gekook word saam met aartappels, uie en tamatie met ‘n knippie swart peper.

Koskenades 16 – Wildsvleis

Ons is tans nog in die jag seisoen en gesels bietjie oor wildsvleis se voordele.

Wildsvleis is deesdae baie gewild en word nou dikwels in goeie restaurante se spyskaarte as spesialiteits geregte gevind.

Wildvleis het ook goeie gesondheids voordele. Wildsvleis val in die klas van organiese kos soorte en bevat ook geen hormone nie. Die vet inhoud van wildsvleis is laag en dit is ook baie geskik vir mense wat sukkel met hoë cholesterol vlakke.

Wanneer jy wildsvleis oorweeg vir jou volgende aandete help dit om te weet wie daarvoor gejag het. En hoe die dier geskiet is, diere wat in die maag of met lyfskote gejag is, of selfs eers gekwes was is gewoonlik baie taai, omdat die dier spanning ervaar het tydens die jag proses. Sulke vleis is gewoonlik net geskik vir biltong , droë wors en chilli bites. Hierdie vleis is gewoonlik ligrooi of blekerig in sy rou vorm. Wanneer die dier reg gejag was, en al die korrekte prosedures gevolg is met die voorbereiding van die vleis, dan sal die vleis helder rooi wees.

Dit is goed om wildsvleis te laat ryp word. ‘n Mens doen dit, deur om die karkas vir 3 – 5 dae in ‘n koelkas te hang. Dit sal verseker dat die vleis sagter en meer sappiger is.

Wildsvleis kan ook gevries word na die rypmaak proses, verkieslik teen baie koue temperatuur van -18° C. Die groter snitte vleis soos boud, fillet en steaks kan tot ‘n jaar lank veilig gevries word.

Maalvleis, lewer, niertjies en tong van wildsvleis moet verkieslik net so 6 maande gevries bly, en wors verkieslik net 2 maande.

Nek, skenkels, blad en rib snitte is van die taaier vleis van wild, en het nodig om stadig en lank te kook. Dit is hierdie vleis wat gebruik word vir potbraai geregte, pasteie en patees.

Net soos met beesvleis en skaapvleis, moet die blad, nek en skenkels van wildsvleis ook eers gebraai word in warm olie, om die vleis te seël. Wanneer die vleis dan goed geseël is kan jy ‘n lekker aftreksel, of wyn,bier en vrugtesap by gooi waarin die vleis dan stadig kan kook om heerlik sag te word. Enige vrugte sap bevat ensieme wat help om vleis sag te maak.

Iets suur soos wynasyn, bruinasyn en appelkooskonfyt help ook om die vleis lekker geur te gee.

Sesame olie, olyf olie, soja sous, blatjang, bessies, port of gedroogde vrugte is ook ‘n goeie toevoeging vir wildsvleis.

Ons voeg gewoonlik spek by wildsvleis om te help om die wilde smaak te verminder en om ook help dat die vleis nie droog word nie.

‘n Heerlike marinade vir wildsvleis is karringmelk of natuurlike jogurt gemeng met peperkorrels, uieringe, wortelringe en lourierblare. Hierdie marinade werk baie goed want die melk bevat melksuur wat die bindweefsel in die vleis afbreek en sag maak.

Kruie en speserye wat goed saam met wildsvleis gebruik kan word om die smaak te komplimenteer is :

  • gemmer
  • koljander
  • ster anys
  • tiemie
  • naeltjies
  • neutmuskaat
  • peperkorrels
  • knoffel
  • lourierblaar
  • basiliekruid

Die sagter wildsvleis snitte kan gerooster, oondgebraai of in ‘n pan gebraai word. Onthou om wildsvleis nie oorgaar te maak nie – want dan is dit geneig om droog te word.Wild steaks kan medium gaar voor gesit word, die vleis is dan nog pienk in die middel. Dit is wanneer hierdie sagte vleis op sy beste is.

Bykosse wat goed by wildvleis pas is groente soos soet patats, groenbone met aartappels, uie en tamatie, blomkool met ‘n witsous en gebakte aartappels.

Volstruis vleis is ‘n baie gewilde wildsvleis keuse. Die fillet en steak snitte wat nou vrylik beskikbaar is, is van die gesondste rooivleis en ook die smaaklikste rooivleis wat jy nou kan kry. Veral as jy gesondheids bewus is sal jy weet dat volstruisvleis laag in cholesterol is, baie min kilojoules bevat maar weer hoog in proteiene is en ook hoë vlakke yster bevat. Wildvleis bevat sowat 54% minder kilojoules as beesvleis en vyf keer minder versadigde vette.

Wanneer jy lus is vir ‘n stukkie wildvleis onthou om dit stadig te laat ontvries in ‘n yskas om te verseker dat die sappe weer deur die vleis opgeneem word. Wat dan vir jou ‘n sappige, geurige stukkie wildsvleis waarborg.

Koskenade 15 Kerrie

Dit is so lekker koud en ideale weer vir kerrie.

Die woord kerrie is afkomstig van ‘n Indiese streek taal en word as “kari” - K A R I – dit beteken sous. Die Engelse woord “curry” is glad nie ‘n beskrywing van die Indiese gereg nie. Geurige spesery disse het elk sy eie Indiese naam afkomstig van die streek of familie van sy oorsprong.

Kerrie poeier was as masala – wat mengsel beteken – deur Indiërs aan die Britse regeringsamptenare en weermag soldate verkoop reeds vanaf die 17de eeu. Die Britte het so baie van die geurige disse van die Indiërs gehou en oppad huis toe het hulle gewoonlik masala gekoop.Die woord kerrie was vir die eerste keer in ‘n Engelse kookboek gebruik. In die kookboek word die woord kerrie ingespan om ‘n dis te benoem van vleis wat met ‘n spesifieke mengsel speserye gegeur word, nl. kerrie poeier.

Masala of die mengsel van speserye wat kerrie poeier vorm word hoofsaaklik van 4 speserye gemeng nl. komyn (cumin), fenugriek, borrie en kardamom.

Uie, gemmer en knoffel is ook baie belangrik in die geur van goeie kerrie en word gewoonlik in olie saam gebraai tot sag en deurskynend. Dan voeg jy jou kerrie poeier by. Olie dien as ‘n dra agent vir die speserye, sonder olie sal jou kerrie nie die heerlike kerrie geur en aroma verkry nie. Indiese restaurante en huishoudings gebruik “ghee” wat ‘n tipe botter is, maar sonneblom olie, olyf olie en enige neut olie kan ook gebruik word.

Die hoof bestandeel van ‘n lekker kerrie is gewoonlik die vleis maar kan ook groente wees vir vegetariërs. Nadat jou speserye, uie, knoffel en gemmer gebraai is in die olie, dan voeg jy die vleis by, en braai tot lekker bruin. Volgende voeg jy ‘n gepaste aftreksel by – afhangende van watter vleis jy gebruik – die mengsel kook dan stadig saam totdat die vleis lekker sag is. Dan geur jy die mengsel finaal met sout en peper na smaak. Om jou sous finaal aan te vul en dikker te maak kan jy nou iets soos groente of lensie puree, jogurt, room of klappermelk by gooi. As jy jogurt gebruik doen dit lepel vir lepel anders kan dit skei in die sous.

Daar bestaan ‘n miskonsepsie by sommige mense dat jy nie sout by ‘n kerrie gereg nodig het nie. Sout is altyd nodig om ‘n dis af te rond en jy moet proe teen die einde van jou kookproses of daar dalk nog sout nodig is.

‘n Interessante ding wat ek onlangs raak gelees het is dat die menslike tong net 5 geure kan onderskei nl. soet, sout, suur, bitter en umami wat beteken – ‘n lekker geurige smaak. Die res van die geure wat ons in iets wat ons eet of drink waarneem word deur die olfaktoriese klier in die neus onderskei. Dit is hier waar ons die aroma van ‘n dis, as ‘n smaak, registreer.

Toets dit gerus deur jou neus toe te druk en aan kos te proe en dan weer jou neus oop te maak en weer te proe – jy sal ‘n wesenlike verskil agterkom.

Om ‘n lekker soeterige smaak in jou kerrie te kry voeg ‘n eetlepel of twee appelkooskonfyt of bruinsuiker by. Net so is ‘n lourierblaar of sitrusblaar soos suurlemoen in die gereg terwyl dit kook ook heerlik smaakvol.

Dan net voor jy jou kerrie met die rys van jou keuse opdien kan jy vars gekapte koljander blare byvoeg – maar net die blare nie die stingels nie want dit het ‘n effens bitter smaak. Koljander balanseer die smaak van veral warm kerrie, net lekker.

As jy nie koljander het nie dan sal vars pietersielie, sprietuie of gerasperde komkommer net so goed werk.

Ware Indiese kerries is meer droog as dit klaar gaar is, heel anders as die Maleise of verwesterde kerries wat weer souserig en amper soos ‘n bredie is.

Verskeie soorte sambal kan saam met jou kerrie bedien word. Daar is interessante soorte soos :

  • maaskaas en geroosterde klapper
  • gesnyde piesang ringe wat gebraai word in botter met melk en suurlemoen
  • pynappelblokkies wat in klappermelk gemarineer word
  • jogurt net gerasperde komkommer en vars kruisement en ‘n knippie komyn
  • fyn blokkies tamatie, uie, komkommer, vars koljander met sout en peper

Die ander heerlike bykos by kerrie is poppadoms wat in olie gediepbraai word, en wat soos brood saam met die kerrie bedien word.

Koskenade 14 Sop

 Ons is midde in die winter en die naweek - so sê die weerburo – gaan weereens ‘n baie koue naweek wees. Wat kan dan nou beter wees as om ‘n lekker, heilsame pot sop te beplan.

Daar is legio resepte vir sop en sop kan bedien word as voorgereg, bygereg of sommer as ‘n een pot maaltyd.

Die belangrikste om te hê as jy aan sop dink is ‘n lekker geurige aftreksel of “stock” soos die meeste van ons dit ken. Jy kan jou eie aftreksel maak van afval stukke vleis, bene en groente soos wortels of uie. Of jy kan gekoopte blokkies gebruik, daar is deesdae ook vloeibare aftreksel wat jy by supermarkte kan koop.

As jy gedroogde bone in sop wil gebruik moet jy dit ‘n dag voordat jy die sop wil maak in water laat week. Bone wat net oornag geweek word kan steeds lank vat om sag en gaar te word. Daarom is dit ook wys om ‘n verskeidenheid geblikte bone in jou koskas te hou vir die dag wat jy vinnig sop wil kook na werk.

As jy vleis in die sop wil gebruik is dit goed om die vleis eers ‘n bietjie in olie of botter te braai in die sop pot en jy kan selfs uie saam met die vleis braai om die vleisgeur in jou sop meer uit te bring.

Om sop effens te verdik stel ek die volgende drie metodes voor :

  • Verpulp jou sop effens met ‘n hand voedselverwerker, die metode maak die sop dadelik dikker.
  • Meng ‘n pakkie kits kapokaartappels in of meng gerasperde rou aartappel in, maar dan moet jy die sop so ‘n ekstra 20 – 30 minute kook om die aartappel gaar te kry.
  • Meng mielieblom pasta wat jy met – mielieblom en water –  gemaak het in die sop, roer aanhoudend tot die sop dikker is, laat sop vir ‘n klein rukkie oor lae hitte prut – pasop dat die sop nie aanbrand nie.

Groentesop is seker die mees gewildste sop wêreldwyd met ‘n legio resepte en variasies vir groentesop in elke land.

Beesskenkel sop of sop met beesvleis in kan so maklik as ‘n volledige aandete voor gesit word veral saam met ‘n kraakvars Franse broodjie.

Hoendersop met pasta staan al eeue lank bekend as die beste medisyne vir verkoue en griep. Deskundiges het ook al bewys dat hoendersop anti-inflammatoriese bestandele bevat wat seerkeel kan help beter word en ook die sleg voel van verkoue en griep kan wegneem.

Dan is daar ook baie ander sop variasies soos die Amerkiaanse “chowder” sop wat amper soos ‘n bredie is en die Engelse “Lettuce soup” en die Franse “Creme Vichyssoise” wat van aartappel en preie gemaak word of die Meksikaanse koue tamatie sop.

Sop is defnitief die in ding vir ons huidige seisoen en so maklik om voor te berei – kook die naweek ‘n heilsame pot sop!