Koskenades 6 Vleis

Vandag praat ons oor rooivleis.

Wanneer jy vleis koop is dit belangrik om na die volgende kenmerke te kyk.

Beesvleis moet ‘n vars rooi kleur hê, ferm wees en effens klam. Die verspreiding van die vet moet goed verspreid wees. Moenie beesvleis koop wat al bruinerig word nie.

Lamsvleis moet pienk-rooi en ferm wees met min vet.Lamsvleis kan donkerder van kleur wees wat net sal beteken dat die vleis van ‘n ouer dier afkomstig is. Hoe ligter die kleur van die lamsvleis hoe sagter sal dit wees.

Varkvleis moet meer vleis as vet bevat en ‘n goeie stukkie vark sal liggryserig-pienk wees en relatief ferm. Die vet van die varkvleis moet ook ferm en wit wees.

Vleis moet so gou moontlik gevries word nadat jy dit aangekoop het as jy dit nie binne twee dae gaan gebruik nie. Beesvleis kan veilig gevries word vir 4-6 maande en maalvleis en ander vleis vir 3-4 maande.

Die beste manier om vleis te ontdooi is stadig in jou yskas wat natuurlik goeie beplanning van jou kant af sal vereis. Wanneer die vleis ontdooi het, haal dit vir so +- 1 uur uit die yskas om kamertemperatuur te bereik, sodoende behou jy die meeste natuurlike geur van jou vleis.

Vleis wat in die mikrogolfoond ontdooi word is geneig om die natuurlike smaak te verloor en jy moet dit dadelik gaarmaak, omdat die mikrogolf eintlik die gaarmaak proses begin het.

Die rede hoekom ons vleis geur is om meer smaak te verleen aan die vleis en om die natuurlike geur van die vleis na vore te bring. Sout en peper word oor die algemeen gesien as die hoof geurmiddels van vleis maar kruie en speserye kan ook baie suksesvol gebruik word om vleis te geur of om ‘n spesifieke geur aan jou vleis dis te verleen. Sout en peper word gewoonlik op vleis gestrooi net voor of net na jy die vleis seël.

Om vleis te seël beteken om die vleis stuk in warm olie of olie en botter mengsel te braai aan al die kante vir ‘n kort rukkie om sodoende die geur van die vleis binne te hou. Elke chef het sy of haar eie voorkeur of die sout en peper voor of na die seël proses bygevoeg word.

Die verskil tussen die twee is dat as jy die vleis geur voor jy dit seël sal jy ‘n ekstra geuriger vleis stuk hê. As jy eers die vleis stuk  seël en dan geur sal die vleis stuk geen sappe vrystel nie, en sodoende die vleis se eie geur meer na vore bring. Probeer gerus altwee metodes en proe watter een vir jou die beste werk. Moet net nie sout op jou vleis gooi lank voordat jy dit begin braai nie, want die sout trek al die lekker natuurlike sappigheid uit die vleis.

Om vleis te marineer is ook ‘n proses om vleis te geur maar in ‘n vloeibare vorm. Dit neem gewoonlik 1 tot 2 ure vir vleis om behoorlik te marineer en dit help om met iets skerps net ‘n paar gaatjies in jou vleis te druk voordat jy dit marineer. Daar is ook ander faktore wat die duur van marineering beinvloed – as jy die vleis in ‘n yskas marineer is ‘n uur of twee gewoonlik voldoende, maar buite die yskas in ‘n toe houer kan 30 – 40 minute voldoende wees.

Die dikte en snit van vleis kan ook bepaal hoe lank jy moet marineer en vleis kan op verskillende maniere gemarineer word. Gewoonlik kan ‘n goeie olie of gegeurde olie met kruie of soja sous of suurlemoensap baie doeltreffend werk. Alles hang af van wat jou verlangde smaak moet wees.

Marinade sal vleis versag, hoe suurder jou marinade, hoe sagter is jou vleis, wees net versigtig om dit nie te oordoen nie.

Lamsvleis marineer baie goed in ‘n mengsel van sonneblomolie, suurlemoensap en vars roosmaryn.

Beesvleis marineer goed in ‘n mengsel van vars uie, rooi soet rissies, growwe swart peper, ligte olyf olie en salie wyn.

Vir stowe geregte werk appelsap en rooiwyn baie goed, jy kan hierby ook groente en kruie voeg vir ekstra geur.

Heerlike vleis eet groete, tot volgende keer.

Ivan

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s