Koskenade 10 Botterskorsie

Botterskorsie is seker die mees veelsydigste groente soort wat ‘n mens kan kry. As jy botterskorsie in jou groenterak het, het jy inderdaad ‘n bestandeel vir ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg. As jy besef hoé veelsydig botterskorsie is, kan jy hierdie bestandeel in ‘n spyskaart voorsit op drie verskillende maniere en niemand sal die eers agterkom nie.

As daar ‘n kompetisie sou wees oor die groentesoort wat die veelsydigste is sou botterskorsie ‘n goue medalje wen. Hierdie pampoen kan gebak, gerooster, gekook, en geroerbraai word. As jy hierdie pampoen sag kook en fyn maak kan jy die lekkerste sop maak, soet as ‘n groente bedien en selfs as ‘n pastei vulsel voorsit vir nagereg.

Botterskorsie het ‘n natuurlike effe soet smaak met ‘n neuterige geur en kan met ‘n magdom kruie en speserye vermeng word vir verskillende disse.

Die tekstuur van botterskorsie is net so veelsydig omdat dit ewe goed fyn gemaak kan word vir sop en groente of vir ‘n vulsel, en ook in blokkies gesny kan word vir gebruik in bredies en rou gerasper gebruik kan word in koek.

Botterskorsie is vol vitamine C en betakarotiene. Met die voorbereiding van botterskorsie is dit defnitief die maklikste pampoen om te skil. Jy kan ‘n goeie sterk metaal groenteskiller gebruik en net die harde bo en onderkante met ‘n mes afsny. Ek gebruik chirurgiese handskoene wanneer ek botterskorsie sny om te keer dat my vingers en hande oranje gekleur bly vir ‘n paar dae – dit is die betakarotien wat jou hande so oranje-geel maak.

Die pitte of saad binne in die botterskorsie kan, nadat jy dit afgespoel het en die drade verwyder het, gerooster word en later gebruik word in slaai. Ek rooster sade en neute in ‘n dik bodem pan op ‘n warm plaat op die stoof. Gooi net jou sade in die skoon pan en laat dit warm word en rooster terwyl jy gedurig roer sodat dit oral lekker rooster.

Botterskorsie sop is my gunsteling in die winter. Sommige resepte vir botterskorsie sop voeg baie verskillende speserye en ander bestandele in. Ek het gevind dat jy die heerlike natuurlike geur van die besondere pampoen verloor as jy dit doen. Ek braai uie en botterskorsie blokkies saam tot die uie sag is, dan voeg ek hoenderaftreksel by en kook alles tot die pampoen sag is. Dan verpulp jy dit met ‘n menger, voeg vars room by, en ‘n knippie sout, peper en neutmuskaat. Meng alles goed en dan het jy geurige botterskorsie sop wat soos botterskorsie proe en nie soos speserye nie.

‘n Heerlike botterskorsie bykos saam met ‘n hoofmaal is om groter blokkies botterskorsie te sny, groen vye konserf op te sny, ‘n bietjie van die vye stroop by te meng, voeg ‘n paar snye suurlemoen by en ‘n paar blokkies botter, bak dit dan stadig in ‘n bakskottel met ‘n deksel.

Botterskorsie word redelik vinnig gaar en as jy dit fyn as ‘n soet groente bedien gebruik min water en ‘n bietjie suiker vir die gaarmaak proses. Wanneer die pampoen sag is voeg bruinsuiker en botter by en laat die karameliseer vir heerlike pampoen. As daar van die pampoen oorbly na ete kan jy die lekkerste pampoenkoekies met kaneelsuiker maak vir die volgende dag as ‘n happie saam met tee of as ‘n bykos saam met ete.

Botterskorsie wat net in die helfte gesny is met die skil nog aan en die pitte verwyder, kan heerlik in die oond gebak word met botter en sout. Op die manier gaar gemaak kan jy dit net so voorsit wat heerlik is, of jy kan die botterskorsie helfte vul met ‘n tamatiesmoor, op die manier is tot die skil van die botterskorsie lekker.

Verpulpte botteskorsie kan selfs in ‘n sponskoek mengsel bygevoeg word om ‘n rolkoek met roomkaasvulsel te maak. Ek het al selfs Creme Brulee van botterskorsie gemaak.

Ek en Hanlie maak ‘n heerlike wortelkoek wat botterskorsie as hoof bestandeel het met gerasperde wortel, appel en pynappel, rosyne en gekapte neute. Hierdie koek is al telkemale gebruik as ‘n troukoek of kerskoek met ‘n soet suur roomkaas versiering.

Ek hoop julle is nou lus om meer met botterskorsie te eksperimenteer…lekker pampoen eet!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s