Koskenade 11 Knoffel

Knoffel is een van die natuur se kosbaarste geskenke aan chefs en kosliefhebbers wêreldwyd. Dit smaak nie net goed nie, maar is boonop nog goed vir jou gesondheid ook.

Knoffel is oorspronklik afkomstig van sentraal Asië, Noord Afrika en Europa. Die Egiptenare van ouds het knoffel aanbid, en daar is selfs kleimodelle van knoffel in Tutamkhamen se grafkelder gevind. Knoffel was baie waardevol in daardie tyd en was selfs as betaalmiddel gebruik.

Interessant is dat Amerika eers in die vroeg 1900’s met knoffel begin eksperimenteer het in hulle kookkuns, maar toe was dit beskou as ‘n lae klas kosbestandeel. Dit is eers in 1940 dat Amerika besef het hoe groot knoffel in die kookkuns is, en hulle het toe selfs begin om knoffel te verbou. Dit is die Amerikaanse kultivar wat ons vandag die meeste gebruik omdat dit van die geurigste is. Amerikaners gebruik vandag meer as 113000 ton knoffel per jaar.

Knoffel het deur die eeue ontwikkel as een van die gewildste geurmiddels in kos en word ook baie wyd gebruik as medisinale middel. Knoffel kan gebruik word om pasiente met hartkwale se simptome te verlig en te voorkom. Knoffel verlaag jou bloed cholesterol, en bloedsuiker vlakke, is goed vir longkwale soos brongitus en asma, en kan selfs help met gewrigsontsteking by pasiente. Knoffel word ook ingespan as ‘n antibiotika en ‘n stimulant vir jou immuunstelsel. Knoffel is ryk aan vitamine B6, maar dit is die swael inhoud wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir sy wye mediese impak.

Gekapte knoffel by jou hond se kos kan selfs help om vlooie en bosluise weg te hou – jou hond moet net dan nie vir jou blaf nie. “Knoffel asem” !

The Stinking Rose soos wat knoffel baie geliefd genoem word in die kookuns wêreld is eintlik lid van die lelieblom familie en ‘n neef van uie, grasuie, salotte en preie.

Wanneer jy knoffel koop, kies die wat ferm is as jy dit druk en wat nog baie droeë papieragtige skille aan het. Vermy knoffel wat ‘n donker poeierigheid  onder die skil het. Dit is ‘n teken van muf wat beteken die knoffel is nie goed gedroog nie en dit sal gou oud word.

Moet ook nie sommer die groot variëteit knoffel koop nie want dit het nie die lekker pikante smaak wat die Amerikaanse soort wat ons in die algemeen gebruik het nie. Hierdie knoffel is mooi wit met baie papieragtige wit skille. Die Italiaanse en Meksikaanse soorte is ook hier beskikbaar. Hulle het albei effens pers en pienk skille, veral aan die binnekant van die huisies. Hierdie soorte is effens ligter van geur. Organies verboude knoffel bevat die heel beste geure.

Stoor ongeskilde knoffelbolle in ‘n oop aparte houer, op ‘n droë plek in jou kombuis, weg van die ander groente en vrugte. So kan knoffel tot 3 maande vars gestoor word. Ongeskilde knoffel moet liefs nie in die yskas gebêre word nie.Wanneer knoffel groen spruite ontwikkel moet jy nie die spruite in jou kos gebruik nie – dit het ‘n bitter smaak.

Wanneer knoffel geskil is kan dit heel of opgekap in olyfolie gestoor word vir drie dae. Dit is egter baie belangrik om te onthou, dat geskilde knoffel in die yskas gestoor moet word, want by kamertemperatuur kan gekapte knoffel giftige bakterieë kry wat baie skadelik kan wees en self tot ‘n dodelike siekte kan lei. Die beste en mees geurigste is om maar net genoeg vars knoffel vir elke dis te skil en voor te berei.

Om ‘n knoffelhuisie maklik te skil, plaas jy dit op ‘n sny oppervlakte, gooi bietjie sout daarby om te keer dat die knoffelhuisie nie rond beweeg nie, en met die kant van ‘n groot mes druk jy dan die knoffelhuisie stukkend. Jy kan dan maklik die skille verwyder en die knoffel opsny na gelang van jou behoefte.

Knoffel word as fundamentele geur bestandeel gebruik in baie tradisionele disse wêreldwyd. Knoffel word gewoonlik saam met uie, tamatie of gemmer gekombineer om die geur optimaal in ‘n dis te gebruik. die geur en intensiteit van die knoffel hang af van watter voorbereidings metode en kook metode gebruik word.

Die sterk geur en aroma van knoffel word veroorsaak wanneer ons die knoffel se selle stukkend sny en dit in aanraking kom met lug, wat ‘n chemiese reaksie teweegbring wat die ensieme in die selle na swael bevattende ensieme verander wat dan vir ons die kenmerkende geur en aroma van knoffel verskaf.

Wanneer jy knoffel braai moet jy baie versigtig wees om nie die knoffel te brand nie, want dan word die knoffel baie bitter en kan jy dit maar weggooi. Knoffel se smaak word al hoe minder, hoe langer jy dit kook in ‘n dis. As jy dus ‘n sterker smaak wil hê moet jy die knoffel later by die dis voeg of fyner opkap.

Daar is ‘n magdom resepte met knoffel in soos –

  • knoffelbrood met Parmesaan kaas en pietersielie
  • knoffel mayonaisse
  • knoffel sop met aartappels, preie, wit wyn en room
  • knoffel hoender
  • knoffel mossels
  • knoffel calamari met rissies
  • knoffel pasta sous met kersie tamaties, feta kaas, roket en nog baie meer
  • knoffel is ‘n pasmaat vir baie disse omdat dit so veelsydig gebruik kan word
  • ‘n heel knoffelhuisie wat in die oond gebak is saam met roosterbrood

Die enigste nadeel, as jy dit so kan noem, is die knoffel asem na die lekker eet, eet vars pietersielie na ete en sorg dat die mense naby jou ook knoffel eet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s