Koskenades 18 – Vitamine C in jou spyskaart

Met die winter wat verkoues en griep in sy mou het moet ons spyskaarte aangepas word vir ons daaglikse vitamine C behoeftes.

Daar is heelwat mense waarvan ek in die week gehoor het, insluitend drie van my eie gesin, wat siek is van verkoue of griep. Ek het dit goed gedink om te kyk na kossoorte wat ons kan help om ons immuunstelsel op te bou deur meer vitamine C in te neem.

Ons is almal bekend met die voordele wat vitamine C inhou vir die voorkoming van verkoues en griep. Vitamine C se voordele vir ons immuunstelsel gaan egter heelwat verder. Vitamine C is ook ‘n anti-oksidant en speel ‘n groot rol in die vorming van bindweefsel wat baie dele van ons liggaam aanmekaar hou.

Vitamine C voorkom ook kneusplekke en help om wonde vinnig gesond te maak. Dit is ook goed vir ons tande en tandvleis en help ons liggame om meer yster te absorbeer. Die menslike liggaam het so tussen 75 – 90 mg vitamine C per dag nodig om aan die liggaam se behoeftes te voorsien.

Ons kan met goeie spyskaart beplanning genoegsame vitamine C inkry met ons daaglikse dieet. Die natuurlike vitamine C bron in vrugte en groente is sensitief vir lig, hitte en lug. Die beste manier is dan om vrugte vars te eet en groente rou of net liggies geblansjeer of gestoom te eet.

Vrugte wat die meeste vitamine C bevat is die volgende : lemoen, kiwi, suurlemoen, pomelo en papaja. Een lemoen bevat omtrent 70mg vitamine C wat amper voldoende is vir ons daaglikse gesonde inname van vitamine C. Ander vrugte wat vitamine C bevat is waatlemoen, pynappel, mango, aarbeie en al die donker bessie soorte. Een rou pynappel bevat bv. 74mg vitamine C teenoor een papaja wat tot 188mg vitamine C kan bevat.

Dit is verkieslik om so twee koppies van omtrent 3 tot 4 verskillende vrugte per dag te eet wat dan vir jou genoeg vitamine C sal verskaf. Nog ‘n manier om jou vitamine C in te kry is deur vars uitgedrukte lemoensap of vars verpulpte kiwi of aarbeisap.

Vitamine C is ook in groente te kry waarvan die rooi soet rissie die meeste bevat en dan ook groen soet rissie. ‘n Halwe koppie vars rooi soet rissie bevat 95mg vitamine C. Ander groente wat vir ons vitamine C kan verskaf is brusselse spruite, brokkoli, groen kool, blomkool, aartappels, papats, spinasie en tamatie.

Onthou dan net weer dat baie water en hitte van die vitamiene C vernietig en is dit dan die beste om dié groente te stoom of te roerbraai.

Soet rissies het hul oorsprong in Meksiko en is deur Christopher Colombus met die misleidende naam – pepper – na Europa gebring. Soet rissie is afkomstig van dieselfde familie as ander rissies wat alles onder die genus capsicum val. En in Meksiko en Sentraal Amerika is alles wat van die rissie genus afkomstig is – chilli- genoem. Alle kos of speserye wat branderig of warm was het dan in daardie tyd as pepper bekend gestaan in Europa. Die eingste probleem was dat die soet rissie die enigste variant rissie of chilli was wat nie gebrand het nie. En dis hoekom ons dit vandag ken as ‘n soet rissie of sweet pepper.

‘n Soet rissie is eintlik ook ‘n vrug soos die tamatie maar word as groente gebruik. Die gebruik om soet rissies met ander groente en vleis te vul en te bak kom feitlik in elke land voor.

Jy kan soet rissie vul met :

  • gebraaide maalvleis en kaas, dit in die oond bak en voor sit met ‘n spesery sous soos in Meksiko
  • met ‘n mengsel van eiervrug, kool en tamatie en dit in die oond bak
  • met geurige kerrie vleis soos in Indië
  • met ‘n mengsel van rys, vleis en groente en bedek met kaas in die oond gebak
  • met couscous, spicy worsies en uie en bedek met kaas

As jy nou rerig ‘n ernstige vitamine C hupstoot nodig het, dan kan jy die rooi soetrissie vul met ‘n mengsel van fyn gekapte brusselse spruite, gebraaide uie, knoffel en maalvleis en dit ook in die oond bak.

Probeer om meer vitamine C bewus te word met jou spyskaart beplanning vir die week. Dit kan net help om jou teen die winter se verkoue en griep te beskerm.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s