Koskenades 12 Uie

Vir my is daar net geen manier om lekker kos te maak sonder om uie by te voeg nie. Ek begin soms uie skil en opsny nog voor ek eers heeltemal weet wat ek wil maak, want ek weet uie bring die geur uit van baie ander bestandele in geregte, alhoewel dit een van die gewoonste, algemeenste groente soorte is. Uie het ‘n intense geur wat wêreldwyd gebruik word in baie verskillende kosdisse. Ek sou selfs so ver gaan om te sê dat uie die universele bestandeel is vir die meeste geurige disse.

Uie soos baie ander kos bestandele het sy oorsprong in Asië en die Midde Ooste. Net soos knoffel was uie, eeue gelede ook waardevol geag vir die Egiptenare. Die bouers van die piramides was met uie betaal vir hulle arbeid. Uie word ook al eeue lank gebruik as medisinale middel en is veral goed vir jou longe en mense wat aan asma ly. Uie het ook anti-inflammatoriese voordele. Uie word as die tweede belangrikste landbou gewas bestempel in die wêreld. Tamaties is nommer 1.

Net vir interessantheid : Die woord “onion” in Engels is afkomstig van die Latynse woord wat “union” of enkel of een beteken. En ‘n ui plant vorm slegs een bol per plant en is ook ‘n “union” of samestelling van verskillende lae tot een eenheid of bol.

Wanneer jy uie koop maak seker dat die ui goed gevorm is en genoeg krakerige buiteskille aan het. Moenie uie koop wat begin spruit of uitloop, en sag voel nie. Vars uie sal ook glad nie soos uie ruik nie – dit sal eintlik na niks ruik nie – terwyl dit nog ongeskil en vars is.

Uie is van dieselfde leliefamilie as knoffel. Daar is baie verskillende soorte uie wêreldwyd verkrygbaar maar die mees algemene wat ons gebruik is die wit ui, bruin ui of geel ui en groen spruit uie (spring onions). Elkeen van die uie het sy eie kenmerkende geur.

Wit uie is gewoonlik medium tot groot in vorm met defnitiewe wit papieragtige skille net soos die van knoffel. Die binnekant is ook egalig wit of lig van kleur. Wit uie het ‘n kenmerkende skerp geur en is ‘n goeie keuse vir gebruik in vulsels vir vleis of enige gebakte vleis of groente disse. Wit uie word nie sommer in slaai rou gebruik nie, tensy jy ‘n defnitiewe sterk uie geur in jou slaai wil hê.

Geel bruinerige uie – wat die mees algemene uie is wat ons te koop kry kan vir amper enige dis aangewend word. Die Spaanse ui wat baie soos die geel/bruin uie is maar net heelwat groter is, smaak lekker in omelette en roerbraai geregte omdat die uie bietjie soeter en ligter in geur is.

Rooi uie – wat ook ‘n Spaanse variant is- verskil van grootte maar het ‘n defnitiewe rooi pers skil en die binnekant is wit met elke lob afgerond in die pers rooi kleur. Die smaak van hierdie uie is ook nie te sterk nie en nogal soet. Rooi uie lyk baie mooi in slaaie en word ook gebruik in marinades en oondgebakte vleis geregte.

Spruit uie is jong uie wat uit die grond gehaal word voordat die bol vorm en kan in sy geheel gebruik word, veral rou in slaaie, opgekap oor aartappels en pasta, maar is ook heerlik gebraai in botter.

Uie moet gestoor word verkieslik in ‘n draad rakkie op ‘n droë plek in die kombuis wat goeie ventilasie het, maar ook weg van skerp lig en son lig. Uie moenie in die yskas gestoor word nie – net spruit uie kan in ‘n sakkie in jou groentelaai in jou yskas gebêre word.

Uie kan veilig vir omtrent 1 maand vars gestoor word, net nooit saam met jou aartappels nie, want die uie absorbeer die vogtigheid van die aartappels wat veroorsaak dat die uie gouer oud word.

Jy kan gekapte uie stoor in ‘n lugdigte houer in jou yskas vir ‘n maksimum van 2 dae, of jy kan die gekapte uie vries, maar dan verloor jy van die geur. As jy net ‘n klein hoeveelheid ui nodig het, sny net die gedeelte van ‘n ongeskilde ui af en kap dit op, bêre die res net so met die skil aan in die yskas (nie langer as 2 dae).

Uie brand ‘n mens se oë as gevolg van ‘n gas wat onstaan wanneer die ensieme in die ui oopgesny word en aan lug ontbloot word. Die gedeelte wat vir jou die meeste trane veroorsaak is by die wortel of stam gedeelte. Jy kan hierdie gedeelte ongesny laat wegval wat sal help vir minder trane.

Ander metodes sluit in om naby ‘n oop venster te staan wanneer jy die uie opkap, so waai die wind wat inkom die gasse weg wat jou oë laat traan.(Daar moet natuurlik ‘n windjie waai vir die metode om te werk)

Jy kan ook ‘n ui effens vries of onder water skil om die trane vry te spring maar dan verloor jy van die geur.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s