Resepte

Lam-Koffie-Dadel gereg
Verhit oond tot 180 grade. Sprinkel koekmeel wat jy met sout en peper gegeur het oor die 2 kg lam skenkels. Braai die vleis aan alle kante tot goudbruin. Plaas die stukkies vleis in ‘n oondvaste bak, een met ‘n deksel. Voeg 4 medium grof gekapte uie, 4 fyn gekapte knoffelhuisies, 3 kardemom peule, 1 ster-anys peul, 1 heel kaneelstokkie by die vleis. Gooi 500ml voorbereide koffie – nie te sterk nie, 500 ml beesvleisaftreksel oor die vleis. Sit die deksel op en bak vir 30 minute verlaag hitte na 150 grade en bak nog 90 minute. Voeg 200g heel vars ontpitte dadels sowat 20 minute voor die 90 minute verstryk het by die lamsvleis. Bedien saam met koeskoes.

Nigella se sjokolade en pistasio neut fudge

Sit 350g 70% donker sjokolade wat in blokkies gekap is, 1 blikkie kondensmelk, 30g botter en ‘n knippie sout in ‘n swaarboom kastrol op lae hitte en roer tot gesmelt. Meng 150g gekapte pistasio neute by die sjokolade en kondensmelk mengsel en roer goed. Gooi mengsel in ‘n 23cm koekiepan, laat koud word en sny in blokkies.

Nigela fudge

Mikrogolf Fudge

Meng 125g gesmelte botter en 2 koppies strooisuiker in ‘n mikrogolf bak. Voeg 1 blikkie (397g) kondensmelk by, moenie roer nie. Mikrogolf die mengsel vir 10 minute op hoog – stop elke 1 minuut om te roer – jy roer dus vir die eerste keer na die eerste minuut. Laat effens afkoel en klop met houtlepel totdat die fudge begin ferm word. Gooi die mengsel in ‘n vierkantige bak, laat afkoel en sny in blokkies.

Lamsbredie met groente

Braai 1,5kg lamstowevleis in 50g botter en 30ml olie in ‘n swaarboomkastrol tot bruin. Voeg twee uie wat in wiggies gesny is en 4 fyn gedrukte knoffelhuisies by die vleis, braai stadig tot die uie sag is. Voeg 15ml suiker, 30ml koekmeel, 30ml tamatiepuree by en braai vir ‘n paar sekondes. Voeg 2 tiemietakkies, 2 lourierblare en 600 ml vleisaftreksel by en bring tot kook. Roer deur. Laat prut vir 2 ure tot die vleis lekker sag is. Gooi 200g klein worteljies wat geskraap en in stukke gesny is, 200g groenboontjies wat in stukke gesny is, 250g baba aartappeltjies wat gehalveer is en 10 vlapampoentjies wat in kwarte gesny is by die vleis. Prut tot die groente sag maar nie pap is nie, roer 10 gekapte vars mentblare by en geur met sout en peper na smaak. Bedien met rys, kapokaartappels of stampmielies. (8 porsies)

Heerlike kluitjies vir bredie

Sif 250ml koekmeel, 5ml bakpoeier, 5ml sout saam. Meng 5ml gekapte vars tiemie en 10ml gekapte vars pietersielie by. Meng bietjie gewys water by die meelmengsel tot dit ‘n sagte deeg vorm. Skep lepelsvol kluitjie deeg op die bredie, sit deksel op en prut vir ongeveer 30minute sonder om die deksel te lig anders val kluitjies plat.

Macaroni en Kaas

Verhit oond tot 200 grade Celcius.

Kook 1 pakkie macaroni tot gaar. In ‘n dikboom kastrol smelt jy 6 eetlepels botter, dan roer jy 6 eetlepels koekmeel daarby en ‘n kwart teelepel sout en bietjie peper. Roer tot alles goed gemeng en glad is, gooi 1 en halwe koppie vars room en 1 en halwe koppie melk geleidelik by – bring tot kookpunt en haal dan van stoof af. Pasop dat die sous nie onder aan brand nie. Meng 4 koppies gerasperde sterk cheddar kaas by tot die kaas gesmelt is. Meng die gaar macaroni en kaas sous bymekaar en gooi in oondvaste bak. Meng 1 koppie broodkrummels met genoeg gesmelte botter dat die brood krummels effens aan mekaar vas sit. Strooi die krummels oor die macaroni en kaas mengsel en bak in oond.

Dekadente Sjokoladefudgekoek met peppadews en kaneel (Pasella)

Verhit oond tot 180 C. Smeer losboompan met botter en voer uit met waspapier. Breek 500g semi – soet sjokolade in stukkies. Meng 500g botter, 60 ml koffielikeur, 50g fyn kaneel en 5ml vanielje geursel saam met die sjokolade in ‘n pan en verhit oor lae hitte tot die mengsel glad en gesmelt is. Laat die mengsel afkoel tot louwarm. Klits 7 groot eiers (kamertemperatuur) en 250ml strooisuiker tot dik en lig van kleur. Die sukses van die koek is by die stap. Die mengsel moet baie dik wees en in volume verdubbel. Vou eers net een derde van die eiermengsel goed by die sjokolade in. Volg met die oorblywende eiermengsel. Meng 100g fyn gekapte peppadews liggies in die mengsel. Giet in koekpan. Plaas die pan op ‘n bakplaat en bak ongeveer 55 minute. Verkoel vir 5 minute en sny dan die koek los aan die kante – in die pan. Los die koek vir nog so uur in die koekpan in die yskas voordat dit uit die pan gehaal word. Draai koek toe met kleefplastiek om die vorm te behou as jy dit uit die pan gehaal het. Maak ‘n stroop van 300g strooisuiker, 5 opgesnyde peppadews, 100ml heuning 200ml water en 2 kaneelstokkies. Kook saam tot dik. Dan maak jy ‘n room met 175ml vars styfgeklopte room waarby jy 3 fyngekapte peppadews meng. Sny die koek in 3 lae, smeer die vars room mengsel tussen die lae en bedien met die heuning stroop. Heerlik!!! Dit is een van ons gunstelinge!

Mielie tert

Klits 5 eiers liggies saam, meng ‘n derde koppie gesmelte botter, kwart koppie suiker en ‘n halwe koppie melk by die eiers. Meng 4 eetlepels Maizena by. Meng dan 1 blikkie heelpit mielies en 2 blikkies geroomde suikermielies by. Gooi die mengsel in ‘n gesmeerde plat glasbak en bak vir +- 1 uur teen 200 grade.

Canjica – Brasiliaanse mielie nagereg

Week 500g mielierys of stampmielies oornag in water. Kook die  mielierys of stampmielies nadat dit oornag geweek is vir +- 50minute totdat dit lekker sag is. Gooi die oortollige water af en voeg 1 blikkie kondensmelk, 1 blikkie klappermelk en 2 en ‘n halwe koppies melk by die mielierys of stampmielies. Meng alles goed saam. Voeg 2 kaneelstokkies, 10 heel naeltjies, halwe teelepel kaneel en 5 eetlepels suiker by, bring tot kookpunt en laat dit dan vir +- 20minute prut – roer af en toe. Meng 2 koppies fyn klapper by en ook 1 eetlepel fyn gekapte ongesoute, geroosterde grondboontjies by. Bedien met vars room.

CANJICA

Volstruis roereier
Een volstruiseier is normaalweg genoeg vir 10 tot 12 persone. Die volstruiseier moet goed geklits word.
Voeg ¾ koppie melk by vir elke koppie eier. Voeg sout na smaak by.
Smelt ’n bietjie botter in ’n pan oor lae hitte. Gooi die geklitste eier by en roer aanhoudend tot dit gestol is.
Onthou dat die pan nie te warm moet wees nie

Kwartel eiers met dukkah

Maak ‘n mengsel van 30g fyn gekapte haselneute, 1 eetlepel komynsaad, 1 eetlepel koljander en 25g sesame saad.

Bedien uitgedopte gekookte kwartel eiers saam met die dukkah mengsel, fyngekapte chillies, knoffelbrood en sout.

Die kwartel eiers word in die dukkah mengsel, sout en chillies gedoop en saam met knoffelbrood ge-eet.

quail 4

Kwartel eier en aspersie slaai

Dompel 600g vars groen aspersies in kookwater en laat kook vir so 4 minute. Die aspersies moet nog lekker bros wees. Dreineer en gooi onmiddellik so 100 ml olyfolie oor. Geur met sout en swartpeper. Laat afkoel. Sit die aspersies in ’n bak en voeg ‘n 100g groen ontpitte olywe, ‘n handvol gekapte pietersielie en 1 blikkie ansjovis-filette by.  Sny  parmesaan kaas in dun skywe met ’n groenteskiller en sit bo-op die slaai.

Ingelegde kwartel eiers

Kook eiers, dop af en plaas in fles en bedek met water. Haal eiers uit en droog af.
Meet die hoeveelheid water en vervang dit met 75% wynasyn en 25 % water
Voeg by elke liter van vloeistof:
1 rissie, 1 ongeskilde knoffelhuisie, 2 heel naeltjies, 4 swartpeperkorrels
en n klein stukkie gemmerwortel. Verhit die mengsel tot kookpunt en laat 5 minute prut en bietjie afkoel. Sit eiers in flesse en bedek met asynmengsel.
Sit deksel op en laat n maand lank marineer, op koel donker plek.

Ma Francis se lensiesop

Braai 2 gekapte uie, 1,5 kg bees skenkel en 1 pakkie opgesnyde spek saam in bietjie olie totdat die vleis bruin is. Rasper en kap al die groente in ‘n pakkie vars groentesop mengsel(seldery,prei,raap,wortel,aartappel,pietersielie)  tot fyn – jy koop dit by ‘n groentewinkel of by Pick&Pay/SPAR/Checkers – rasper 4 ekstra aartappels by en gooi alles by die gebraaide vleismengsel.

Gooi 1 pakkie droee rooilensies en 1 blikkie gekapte tamaties by. Gooi  +-2 liter water by en kook vir so 2 ure totdat alles sag is. Geur met sout en peper na smaak.

DO35_WR17_boskos_1 Esau se lensie sop

Braai 2 gekapte uie, 2 gekneusde knoffelhuisies en 1 kg bees of lamskenkels totdat die vleis bruin is. Voeg 500g rooi lensies, 3 cm geskilde gekapte vars gemmer, 2 eetlepels wit asyn, 2 eetlepels suurlemoensap, 2 liter kookwater (+- 8koppies), 1 teelepel sout en ‘n kwart teelepel kerriepoeier by. Kook vir +- 2 ure totdat die vleis van die bene afval.

 Warm lensie en feta slaai

Braai 1 medium prei wat in dun skyfies gesny is saam met 2 teelepels gekapte vars roosmaryn. Voeg 2 gekapte knoffehuisies en ‘n pakkie fyn gesnyde spek by, braai alles saam totdat die spek bros is. Voeg 800g gaar bruin lensies by die spek mengsel, braai alles saam totdat die lensies ook lekker warm is. Gooi die mengsel in ‘n glasbak, meng 2 eetlepels wit druiwe asyn en ‘n drie kwart koppie gekapte pietersielie by, meng alles deur. Geur met peper en strooi stukkies feta kaas wat in blikkies gesny is oor die lensie mengsel.

cake in a cupCake-in-Cup – Heerlik!

Meng : 4 eetlepels koekmeel, 4 eetlepels suiker, 2 teelepels kakao,   1 Eier, 3 eetlepels melk, 3 eetlepels olie, 3 eetlepels chocolate chips (of gebreekte stukkies sjokolade), ¼ teelepel vanilla, ¼ teelepel bakpoeier en ‘n knippie sout. Meng alles saam in ‘n groterige koffie beker en mikrogolf vir 3 minute.

Rissie-en-gemmersous vir stoomboot fondue

Maak eers die rissiesous : los halwe koppie suiker in een derde koppie water op oor matige hitte. Gooi ‘n kwart koppie asyn, 2 fyn gekapte knoffelhuisies en 1 of 2 fyn gekapte rissies waarvan die pitte verwyder is, by. Prut tot stroperig, voeg kookwater by as dit te stroperig en dik is. Meng dan by 45ml van die rissiesous, 3 eetlepels ligte sojasous, een en ‘n halwe teelepel gekneusde knoffel, 2 teelepels vars gemmer en 2 teelepels suiker. Roer alles saam tot suiker opgelos is.

Botterkaramelsous vir soet fondue

Smelt 225g sagte bruinsuiker, 125ml vars room, 2 eetlepels botter en 2 eetlepels goue stroop saam in ‘n kleefvrye pan oor matige hitte. Roer af en toe. Haal van die hitte af sodra dit kookpunt bereik, gooi die sous in die fonduepot en verhit oor lae vlam.

Appel en aarbei blatjang

Verhit 15ml botter, braai 1 medium fyngekapte ui en 2 Granny Smith appels(geskil,ontpit en in blokkies gesny) in die gesmelte botter vir so +- 10 minute tot die appels amper sag is. Voeg 60ml witwynasyn,60ml bruinsuiker, 2ml gerasperde vars gemmer en 1-2ml gedroogde rissievlokkies by. Laat dit vir 15-20 minute prut tot die mengsel dik is. Voeg 350g gekapte vars aarbeie (blare verwyder) by, sit die stoof plaat af en roer vir ‘n paar minute tot die aarbeie net sag is. Laat afkoel en gooi in gesteriliseerde glasbottels.

Beste melktert resep! Ons vriendin Doulien se melktert!

Kors : Klits 250g margarien en 1 koppie suiker tot wit en romerig. Voeg 2 eiers, 4 teelepels bakpoeier, knippie sout en +- 2 koppies meel by, meng saam en druk in tertpanne. Bak +- 10min by 180 C tot goudbruin. (die hoeveelhede is genoeg vir +- 12 tertkorse)

Vulsel : Verhit 1500ml melk en 1 en ‘n half eetlepel botter stadig tot kookpunt. maak ‘n pasta van 750ml wit suiker, 3 eiers, 5 eetlepels Maizena, 5 eetlepels koekmeel en 5 ml vanilla. Roer die pasta by die warm melk en roer tot dit verdik het. Pasop vir aanbrand! Gooi in tertkors en strooi kaneel oor.

Melktertkaaskoek (Wenresepte 3)

Kors : Room 125g sagte botter en 50g wit suiker saam, voeg 1eier by en klop goed. Sif 175g koekmeel, 2ml bakpoeier en knippie sout bietjie, bietjie by bottermengsel. Smeer dit dan teen die bodem en wand van ‘n 23cm koekpan (springform). Verkoel kors ‘n uur in yskas.

Vulsel : Klits 250g gladde roomkaas tot lig, klits 120g wit suiker bietjiegewys by en dan die meel. Klits 4 eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Klits 500ml melk geleidelik by en dan die sap van ‘n halwe suurlemoen en 5ml vanielje.

Verhit oond tot 180 C, gooi die vulsel in die kors, strooi kaneel oor en bak vir 55 – 60 minute. Toets met mes, as die mes skoon uitkom, haal uit oond en verkoel. Haal uit koekpan en bedien.

Gerookte Mosselsop resep ( 4 porsies)

1 Blikkie Gekondenseerde Hoendersop

1 Blikkie gerookte mossels

1 x  250 ml Room

1 eetlepel sjerrie of brandewyn

1 eetlepel gekapte vars pietersielie

1 Klein gekapte ui

Braai ui in botter tot sag, gooi die inhoud van die blik hoendersop by gebraaide uie, gooi room in lee hoendersop blikkie en maak die blikkie verder vol met melk. Gooi die blikkie gerookte mossels by die hoendersop mengsel, gooi eetlepel sjerrie by en prut vir 20 min op lae hitte.

Bedien met warm roosterbrood.

Geniet!

 Heerlike ontbeende Lamsboud resep

Vra jou slagter om vir jou ‘n lamsboud – wat groot genoeg is vir die hoeveelheid gaste waarvoor jy wil kos gee –  te ontbeen.

Maak ‘n mengsel van vars roosmaryn, fyn gekap, sonder die takkies, fyn gekapte uie, fyn gekaptevars  knoffel, fyn gekapte spek, meng bietjie rooiwyn by.

Maak diep, smal snytjies met ‘n lang dun mes in die lamsboud, reg rondom op verskillende plekke, maar nie te veel dat die lamsboud later soos ‘n sif lyk nie.

Stop nou al die gaatjies vol van die roosmaryn, uie, knoffel, spek mengsel.

Smeer die lamsboud met olyfolie en vryf in met growwe sout, sit die lamsboud in ‘n dubbel roosterpan, gooi so koppie of twee rooi wyn onder in die pan, sit deksel op. Bak die lamsboud oornag teen 100° C. Jy is verseker van heerlike, sappige lamsvleis die volgende oggend! Geniet die lamsboud resep.

Die resep vir die week is heerlike pampoen koekies :

Meng 1 koppie koekmeel, 50 ml suiker, 10 ml bakpoeier, 250 ml fyngemaakte botterskorsie, 1 eier en 50 ml melk saam. Maak ‘n sous van 250 ml suiker, 100 ml botter, 250 ml melk, 250 ml vars room en 5 ml karamel essense. Braai lepelsvol van die deeg in warm olie, dreineer en pak in oonbak of opdienskottel. Gooi die warm sous oor al die pampoen poffertjies. Heerlik!

Die resep vir die week is Halloumi kaas slaai:

‘n Vriendin, Desiree van Brits het die week ‘n resep gesoek vir ‘n Haloummi voorgereg en hier is ‘n heerlike Halloumi slaai resep.

Sny die blok Halloumi kaas in repies of skywe van so 1.5 cm dik, braai die kaas repies in olyfolie of botter tot goudbruin. Maak ‘n sousie van fyn gekapte capers, so 2 eetleples capers, bietjie wit wyn asyn, 1 eetlepel behoort reg te wees, die sap van 1 uitgedrukte vars lemmetjie, 1 fyn gekapte knoffelhuisie, 2 eetlepels vars gekapte koljander, 1 teelepel “wholegrain” mosterd, so 4 eetlepels olyfolie. Rangskik die gebraaide Halloumi kaas op ‘n verskeidenheid groen slaai blare, kersie tamaties en rooi uie ringe, drizzle die sous oor die slaaitjie.

Resep vir die week :

Guava Skuim, neem 1 blik yskoue Ideal melk, klits totdat die Ideal melk verdubbel het en skuimerig is, klits dan 1 blikkie guavas, 2 eetlepels suiker en 1 teelepel vanielje in die skuim, klits totdat al die guavas fyn is, bedien met geklopte room en gedroogde guava rol repies.

Resep vir die week :

Red Velvet Koek (die nuutste craze is Red Velvet alles van roomys tot pannekoek) Ons het tot ondervind dat die rooi voedselkleursel by ons naaste winkel uitverkoop is!

625ml koekmeel, 375ml suiker, 5ml koeksoda, 10 ml kakao, 5ml sout, 250ml karringmelk, 2 eiers (by kamertemperatuur), 375 ml olie, 5ml wit asyn, 30ml rooi voedselkleursel, 5m vanielje. Sif meel, suiker,koeksoda,kakao en sout saam in ‘n mengbak. Meng karringmelk, eiers,olie,asyn,rooi voedselkleursel en vanielje in ‘n aparte mengbak. Meng die meelmengsel by die karringmelkmengsel.Verdeel die mengsel tussen 3 koekpanne van 18cm elk. Bak die koek in vooraf verhitte oond teen 180 grade vir 35 tot 40 minute. Vir die roomkaasversiersel klits jy 250g goeie gladde roomkaas en 250 g sagte botter tot wit en donsig, voeg 500 ml versiersuiker by en meng en voeg dan 5m vanielje by , verkoel die mengsel vir 20 minute vvor jy dit gebruik om die Red Velvet koek te versier. Geniet!

Resep vir die week : Tuisgemaakte Boerewors

Boerewors

3 kg Beesvleis, 3 kg Varkvleis (voeg ongeveer 1kg varkvet by as die ander vleis maer is, anders is die wors baie droog – ek het al beesvet gebruik – dit werk, maar vark het ‘n beter smaak), 1 kg Spekvleis, 2/3 koppie Rooiwyn Asyn (bruin asyn sal ook werk)
4 – 6 huisies gemaalde Knoffel (of meer, na smaak), ½ koppie Worcestershire Sous ,Wors Derms (indien gesout, week in warm water tot sag), 6 eetl Sout (fyn seesout – nie growwe “kosher” sout nie), 2 teelepels varsgemaalde Peper, 4 eetl varsgemaalde Koljander, 1 teelepel varsgemaalde Neutmuskaat, 1 teelepel fyn droeë Tiemie, 1 teelepel fyn Allspice, ½ teelepel fyn Naeltjies

• Sny die beesvleis, varkvleis, en ekstra varkvet in blokkies.
• Maal die vleis tot ‘n growwe tekstuur.
• Sny die spekvleis in klein (5mm) blokkies.
• Meng die spek blokkies, speserye, knoffel, asyn en Worcestershire Sous baie liggies in die vleis. Hou die vleis los in tekstuur.
• Stop die vleis in die derms sonder om dit te styf te stop.

Resep vir die week : “Festive Slaai”

Hierdie slaai is een van ons gunsteling slaaie, dit bevat heelwat bestandele maar is heerlik vir ‘n spesiale middagete:

Vat ‘n groot platter en pak die hele platter vol van ‘n verskeidenheid blare soos butter lettuce, gewone blaarslaai, roket, basil, en ‘n verskeidenheid ander blare. Nou pak jy die volgende bestandele in ‘n hopie op die blare : kersie tamaties wat in die helfte gesny is, wortel repies, groen, geel en rooi soetrissie repies, skyfies komkommer, gesnyde rooi uie, gesnyde spriet uie, repies hickory ham, repies gerookte hoenderborsies, stukkies gebraaide spek, repies edam kaas, brie kaas wat in blokkie gesny is, croutons, geblikte chickpeas, aarbeie wat in skyfies gesny is, skyfies groen appel, avokado skywe, geroosterde pine kernels. jy pak alles deurmekaar in ‘n hopie op die blare, jy kan tussen die bestandele ook weer van die blare pak. Bedien met ‘n tuisgemaakte vinaigrette slaai sous.

Dit is ‘n heerlike bederf slaai!!!Resep vir die week :

Bier brood : 3 koppies bruismeel (gesif, dit is baie belangrik dat die meel goed gesif is), 1/4 koppie suiker, 1 blikkie bier, 1/2 koppie gesmelte botter. Meng alles saam, gooi in gesmeerde broodpan of bak waarin jy die brood wil bak. Bak vir 1uur teen 180 grade C. Laat die broodjie vir 15 minute afkoel nadat jy dit uit die oond gehaal het. Jy kan gerasperde kaas en fyn biltong ook by die deeg meng voordat jy dit bak.

Aartappel brood : 1 koppie kapokaartappels, 2 eiers geklits, 1/2 koppie sagte botter, 1/2 koppie suiker, 1 teelepel sout, 1 pakkie kitsgis, 1/2 koppie warm water, 5 koppies koekmeel. Meng die aartappels, eiers en botter saam. Meng dan die gis, suiker, sout en warm water by die aartappel mengsel. Meng genoeg meel by sodat die deeg geknie kan word. Knie die deeg tot glad en elasties. Sit dit dan in ‘n gesmeerde bak, bedek en laat tot dubbel die volume rys. Nadat die deeg gerys het, knie die deeg af en totdat al die borrels uit is. Deel die deeg in twee en sit in twee gesmeerde broodpanne, laat weer tot dubbel die volume rys, bak vir 40 minute in oond van 180 grade C of totdat die brood hol klink as jy daarop klop.

Resepte vir die week :

Meraai se paai : (dankie Meraai!)

2 kg hoenderfilette, ontbeen en sonder vel
1 koppie hoenderaftreksel
1 koppie witwyn
30 ml (2 eetlepels) knoffel, fyngemaak
5 ml (1teelepel) sout
5 ml (1teelepel ) varsgemaalde swartpeper
200 g gekookte ham, in blokkies gesny
2 uie, grof gekap
250 g knopiesampioene, in dun skyfies gesny
250 ml (1koppie) vars gekapte pietersielie

Sous:
250 g botter, 250 ml koekmeelblom, 500 ml hoenderaftreksel, 250 ml suurroom, 500 ml (2 koppies) melk, 400g blaardeeg, ontdooi en uitgerol,  1 eier, geklits

METODE

Verhit die wyn en hoenderaftreksel in ‘n kastrol, voeg die hoender, knoffel, sout en peper by, bedek en laat dit prut vir 20 minute oor matige hitte.
Haal die hoender uit en behou die hoenderaftreksel en breek hoender in klein stukkies.
Plaas in ‘n mengbak, voeg die ham, uie, sampioene en pietersielie by en meng dit deeglik.
Smelt botter in ‘n kastrol en roer die koekmeelblom by .
Voeg die hoenderaftreksel geleidelik by terwyl dit aanhoudend geroer word.
Giet die suurroom en die melk by en roer tot glad.
Voeg die hoendervleismengsel by die sous en meng dit.
Skep dit in ‘n oondbak en bedek dit met die uitgerolde deeg.
Bestryk die deeg met die gesklitste eier.
Bak die pastei vir 20 minute in ‘n voorverhitte oond teen 200 grade Celsius.

Oorgooi deeg : 1 koppie bruismeel, knippie sout, 3 eetlepels botter, 1 eier. Vryf die botter in die meel, klits eier en melk, voeg by deeg en klits egalig. Gooi dan deeg oor die vleis en bak by 180 grade tot goudbruin.

Resep vir die week : Suurlemoenmeringue – roomys Klits 1 blik ingedampte melk (Ideal) wat oornag in yskas gehou was,  500 ml vars room, 1 blik kondensmelk en ‘n halwe kondensmelk blik suurlemoensap saam tot dik en romerig, vat nou +- 750ml gekoopte meringue wat in stukke gebreek is, pak afwisselende lae van die room mengsel en die meringue stukke. Laat oornag in vrieskas vries. Skep met roomyslepel in bakkies en bedien met aarbeie of frambose.

Resep vir die week : Basiese muffin resep met variasies :
Sif 2 koppies koekmeel, 1 koppie suiker, 2 teelepels bakpoeier en ‘n halwe teelepel sout saam. Meng 1 eier, ‘n driekwart koppie melk en 100ml olie saam. Meng alles saam, wanneer jy nat bestandele soos fyn gedrukte piesangs, of fyn pynappel moet jy die hoeveelheid melk aanpas. Skep die mengel, nadat jy jou vulsel bygemeng het, in gesmeerde muffin pannetjies. Bak vir 25 – 30 minute teen 180 grade of totdat dit gaar is.
Verskillende variasies :
1 koppie fyn gedrukte piesangs & halwe koppie gekapte neute
1 koppie vars bloubessies
1 klein blikkie fyn pynappel & ‘n halwe koppie fyn klapper
1 fyn gekapte, geskilde appel & ‘n kwart teelepel kaneel
1 koppie fyn gekapte dadels & halwe koppie neute
halwe blikkie Chakalaka mengsel & halwe koppie gerasperde kaas
1 teelepel Robertson Italian Herb mengsel,halwe koppie gerasperde Mozzarella kaas, halwe klein gekapte tamatie, 60 ml fyn gekapte soetrissies, 1 teelepel Ina Paarman Italian Cheese
1 koppie gerasperde cheddarkaas, halwe koppie gerasperde Feta kaas en 60 ml gerasperde Pecorino kaas & ‘n halwe teelepel mosterd poeier
halwe koppie fyn gekapte salami, 2 teelepls pesto, halwe koppie mozzarella kaas
halwe koppie fyn gekapte ham, halwe koppie fyn gerasperde kaas, kwart koppie fyn gekapte sampioene, 1 klein fyn gekapte soetrissie & 1 eetlepel fyn gekapte pietersielie
halwe koppie gerasperde bloukaas, halwe koppie fyn gekerfde biltong & kwart koppie fyn gekapte gedroogde pere

 Ons Tiramisu resep spesiaal vir al die VIP’ers soos julle gevra het:

Skei 2 xtra groot eiers, klits die eiergele saam met 100ml strooisuiker tot lig en dik. Meng 250g volroom roomkaas by die eiergeel en strooisuiker mengsel, meng nou 125 ml Griekse jogurt en 5 ml vanielje by die mengsel. Klits die eierwitte styf en vou by die roomkaasmengsel in. Meng 50ml baie sterk koffie, 250 ml vars room  met 20 ml sjerrie en doop vingerbeskuitjies in die koffie mengsel, pak nou ‘n laag vingerbeskuitjies wat in die koffie mengsel gedoop is en dan die roomkaasmengsel, as jy meer as een laag kan doen is dit reg so. Die laaste laag moet net die roomkaasmengsel wees. Strooi fyngemaakte Flake sjokolade en kakao oor die boonste laag en sit die Tiramisu in die yskas om te verkoel. (“Tiramisu beteken opkikker)

Groot gevulde Portabello sampioene
140 g (150 ml) botter, 1 ui, fyngekap, 1 knoffelhuisie, fyngekap, 350 ml broodkrummels,150 g mozzarella-kaas, in stukke gesny, hand vol basiliekruid, grof gekap,  sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
4 groot sampioene
Verhit oond tot 200 °C. Smelt sowat 30 ml van botter en braai ui en knoffel tot sag en deurskynend. Smelt res van botter apart. Voeg dit, broodkrummels, kaas en basiliekruid by uie. Geur met sout en swartpeper. Plaas sampioene in oondbak en pak vulsel bo-op. Bak vir 20 minute tot net sag en effens bruin bo-op. Sit warm voor

lemonade1 Tuisgemaakte Lemonade :

Meng 1 koppie suiker en 1 koppie water in ‘n dikboom kastrol. Bring tot kookpunt en roer gereeld tot die suiker opgelos is, laat dit afkoel. Dit is jou suiker stroop, meng die sap van 4 suurlemoene by die stroop mengsel, meng baie goed, meng 4 koppies yskoue water by die stroop mengsel. Jy kan ook yskoue soda water by gooi in plaas van die water. Bedien yskoud met dun skyfies suurlemoensap.

Tuisgemaakte Gemmerbier :

Bring 10 liter water tot kookpunt en voeg 1 kg suiker, 50g kremetart, 15ml jamaika gemmer en 250 ml suurlemoensap by, roer goed. Haal van hitte af as mengsel goed kook. Laat afkoel tot by kamertemperatuur, voeg 1 pakkie(10g) kitsgis en 250 ml sultanas by. Roer goed, gooi alles in groot plastiek emmer en maak toe. Laat staan vir 3 dae by kamertemperatuur, na 3 dae maak jy die emmer oop en gooi die gemmerbier oor in 2liter plastiek bottels en stoor in yskas. Bedien yskoud met ‘n takkie kruisement.

6 thoughts on “Resepte

  1. Hi, ek dink hierdie resepte is baie oulik en ek gaan definitief daarvan gebruik maak, waar kry ek bechamel sous wat ek in die krokete /bitterballe moet gebruik

  2. Pingback: Stampmielie Geregte | Kreatiewe Kos Idees

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s